English

Demografiese Verteenwoordiging en die Media

Dave Steward

FW de Klerk Stigting

DEMOGRAFIESE VERTEENWOORDIGING EN DIE MEDIA

Deur Dave Steward

Die pers is weereens onder skoot vir sy onvermoë om te "transformeer" en te "diversifiseer".  Die Parlement het die land se voorste mediagroepe ondersoek en bevind dat hulle tekortskiet. Hulle bly by gebreke om die vereistes na te kom wat deur President Zuma vroeër vanjaar gestel is, toe hy gesê het dat dit noodsaaklik is vir eienaarskap- en werknemerstrukture van media organisasies om die land se demografiese profiel te weerspieël.

Hoekom? Wat op aarde het die samestelling van 'n maatskappy se eienaarskap, bestuur of werkerskorps te doen met die fundamentele reg op vryheid van uitdrukking - wat die enigste vertrekpunt behoort te wees van iemand wat in die mark vir idees handel dryf? Hoe kan 'n Afrikaanse koerant soos "Die Burger" enigsins die demografie van 'n bevolking verteenwoordig waarvan slegs 14% Afrikaans praat? Hoe sou 'n maatskappy wat sy reg om minderheid- politieke, kulturele en filosofiese sieninge te ondersteun, dit kon doen as, volgens die bepalings van die Zuma-dogma, dit beheer en beman moet word deur die rassemeerderheid?

Enige individu of groep wat dieselfde sieninge deel - ongeag hul rassesamestelling - het 'n absolute reg om hul siening uit te druk binne die parameters wat deur die Grondwet neergelê is. Enige burger, ongeag ras, het die reg om sulke sieninge te huldig, om koerante te koop, webtuistes te besoek en te luister of kyk na wat hulle ookal wil.

Die Staat het hoegenaamd geen reg om in te meng met die vry vloei van gedagtes nie.

Waarmee ons hier te doen het is nog 'n manifestasie van die toenemend deurlopende staatsgoedgekeurde ideologie van demografiese verteenwoordiging. Ons sien dit in regeringsbeleid om die persentasie bruin werknemers in die Department van Korrektiewe Dienste in die Wes-Kaap te beperk tot hul nasionale demografiese kwota van 9% [ten spyte van die feit dat hulle 55% van die bevolking in die Wes-Kaap verteenwoordig]; ons sien dit in die weiering om bitter noodsaaklike forensiese spesialiste in die SAPD aan te stel omdat hulle blank is; en ons sien dit in die onvermoë van die RDK om uitstaande regters aan te stel omdat hulle nie aan die korrekte rassegroep behoort nie.

Die begrip van demografiese verteenwoordiging en diversiteit is gemeenskaplik uitsluitend. Diversiteit verg erkenning van die reg van enige groep eendersdenkende mense om bymekaar te kom om hul besondere belang te bevorder en te kommunikeer.  Daardie belang mag verbind wees met hul politiek, filosofie, taal, kultuur, geloof, sport of wat ookal. Per definisie sal sulke groepe nie, en hoef hulle ook nie, die demografiese samestelling van die bevolking as geheel te verteenwoordig nie. Die vereiste vir media organisasies om demografies verteenwoordigend te wees sou, in teendeel, neig om die breë sieninge van die rassemeerderheid in alle kommunikasie af te dwing en sal derhalwe afbreuk doen aan die diversiteit van die media.

Eise dat mediamaatskappye die demografiese samestelling van die bevolking moet weerspieël  is inderdaad maneuvreerdery op wat die ANC bestempel as die "slagveld van idees". In sy 2010 Nasionale Algemene Raad besprekingsdokument op "Media Diversiteit en Eienaarskap", verklaar die ANC dat "Media en kommunikasie is betwiste terreine en daarom nie neutraal nie, maar verteenwoordig die ideologiese stryd en magsverhoudinge gegrond op ras, klas en geslag in ons samelewing."

Dit kla dat "sommige gedeeltes van die media voortgaan om anti-transformasie, anti-ontwikkeling en anti-ANC houdings in te neem." Dit sê dat op hierdie slagveld van idees "is ons doelwitte  daarom om die ANC se sienings en waardes [ontwikkelingstaat, kollektiewe regte, waardes vir 'n versorgende en mededeelsame gemeenskap, solidariteit, ubuntu,  nie-seksisme, samewerking]  kragdadig te kommunikeer teenoor die huidige hoofstroom-media se ideologiese uitkyk [neo-liberalisme, 'n swak en passiewe staat, en oorbeklemtoning van die regte van die individu, markbeginsels, ens.]

Een van die beste maniere om sulke onsmaaklike liberale sienings teen te werk is om demografiese verteenwoordiging op die vernaamste mediamaatskappye af te dwing deur hul verpligtinge ten opsigte van Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging te verhoog. Dit sal 'n fundamentele en ongrondwetlike inmenging in die reg op vryheid van spraak wees. Dit mag ook onvoorsiene probleme veroorsaak, aangesien vele van die regering se skerpste en mees effektiewe kritici swart joernaliste is.



Comments

Published in: FW de Klerk Stigting