English

Die Raad van die FW de Klerk Stigting ken die 2012 FW de Klerk Welwillendheidtoekenning toe aan Pieter-Dirk Uys

FW de Klerk Stigting

DIE RAAD VAN DIE FW DE KLERK STIGTING KEN DIE 2012 FW DE KLERK WELWILLENDHEIDTOEKENNING TOE AAN PIETER-DIRK UYS.

Die FW de Klerk Stigting Raad het besluit om die 2012 FW de Klerk Welwillendheidtoekenning aan Pieter-Dirk Uys toe te ken vir sy voortreflike bydrae tot die bevordering van welwillendheid in Suid-Afrika.

Die Raad het Pieter-Dirk Uys vir die toekenning aangewys vir sy lewenslange loopbaan waardeur hy Suid-Afrikaners laat lag het vir die absurditeite van rassisme en sy voortreflike werk om Suid-Afrikaners – en veral skoolkinders - te waarsku teen die bedreiging van MIV/VIGS.

Pieter-Dirk Uys se humor het geslagte Suid-Afrikaners gehelp om hulself, hul vooroordele en die kompleksiteite van Suid-Afrika in perspektief te sien. Die Raad glo dat om vir onsself, ons leiers en ons verwaandhede te lag, doen meer om vooroordeel af te breek as enige politieke toesprake, lesings of hoofartikels. Die Raad glo ook dat Pieter-Dirk Uys se enorme bydrae tot MIV/VIGS-bewusmaking groter erkenning verdien. Gedurende sy veldtog teen MIV/VIGS het hy meer as 1,5-miljoen skoolkinders, gevangenes en inwoners van verbeterhuise met sy waarskuwings teen die dodelike bedreiging van VIGS bereik.

Die Toekenning is in Oktober 2010 deur die Raad ingestel om eer te bewys aan die persoon – of organisasie – wat na sy mening ‘n voortreflike bydrae tot die bevordering van welwillendheid onder Suid-Afrikaners maak. Die Toekenning word jaarliks op Versoeningsdag aangekondig en sal aan Pieter-Dirk Uys oorhandig word tydens die Stigting se gala-dinee op 2 Februarie 2012.

Dr Danny Jordaan was die eerste ontvanger van die Toekenning in Februarie vanjaar vir die enorme bydrae wat die 2010 FIFA Sokker Wêreldbeker tot die bevordering van welwillendheid en nasionale eenheid gemaak het.

Comments

Published in: FW de Klerk Stigting