English

FW de Klerk Stigting doen 'n beroep vir die skrapping van klousules in die voorgestelde Suid-Afrikaanse Weerdiens Wetsontwerp wat vryheid van uitdrukking kan beperk

FW de Klerk Stigting

F W DE KLERK STIGTING DOEN 'N BEROEP VIR DIE SKRAPPING VAN KLOUSULES IN DIE VOORGESTELDE SUID-AFRIKAANSE WEERDIENS WYSIGINGSWETSONTWERP WAT VRYHEID VAN UITDRUKKING KAN BEPERK.

Die F W de Klerk Stigting het 'n voorlegging aan die Parlementêre Komitee oor Water en Omgewingsake gedoen waarin hy vra dat die voorgestelde klousule 30A van die Suid-Afrikaanse Weerdiens Wysigingswetsontwerp wat met boetes en misdrywe handel, geskrap moet word.

In terme van die klousule "mag geen persoon (a) 'n uiterste weersomstandighede of lugbesoedelingverwante waarskuwing uitreik sonder die nodige geskrewe toestemming van die Weerdiens nie; (b) vals of misleidende inligting oor die Weerdiens verskaf nie; of wederregtelik, met opset of nalatig, enige optrede onderneem of versuim om op te tree, wat die Weerdiens nadelig of moontlik nadelig kan aantas nie."

Die Stigting het die mening uitgedruk dat die klousule onversoenbaar is met Artikel 16 van die Grondwet wat elkeen die reg op vryheid van uitdrukking gee, wat insluit "vryheid van die pers en ander media; vryheid om inligting en idees te ontvang en te deel; vryheid van artistiese kreatiwiteit; en akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing" Die enigste beperkings wat op vryheid van uitdrukking geplaas word is "propaganda vir oorlog; aanhitsing tot dreigende geweld; of voorspraak vir haat wat op ras, etnisiteit, geslag of geloof gegrond is, en wat aanhitsing om skade te veroorsaak, behels".

Die Stigting het daarop gewys dat kommunikasie oor weer- en besoedelingverwante toestande duidelik nie onder enige van die afdelings van uitdrukking val wat deur die Grondwet verbied word nie. Die voorgestelde klousule sal vryheid van uitdrukking direk beperk deur drukpers, elektroniese en sosiale media te verhoed om hul regmatige menings oor uiterste weersomstandighede en/of lugbesoedelingtoestande uit te druk.  

Dit sal ook die vryheid van mense en organisasies beperk om inligting en idees te ontvang en te deel oor 'n onderwerp wat van algemene en regmatige belang is. Mens kan jou heelwat omstandighede voorstel - soos die aantog van 'n tornado - waartydens die media of gewone burgers 'n dringende behoefte het om andere te waarsku oor 'n dreigende gevaar sonder die geskrewe toestemming van die Weerdiens.
 
Die voorgestelde klousule sal die Weerdiens ook 'n monopolie gee op kommunikasie oor sake van algemene belang vir die publiek en sal daardeur akademiese vryheid en ander organisasies en individue se vryheid om navorsing te doen, beperk.

Die Stigting is van mening dat dit net so onaanvaarbaar is om "vals en misleidende inligting" oor die Weerdiens te probeer verbied. Die Stigting het uitgewys dat inligting dikwels volgens persoonlike sienings "vals of misleidend" is en dat daar geregverdigde verskille in menings oor bykans enige vraagstuk is. Die Stigting het genoem dat dit onaanvaarbaar is om billike kommentaar en debat te beperk - veral oor staatsorgane -  en selfs al word sulke kommentaar  vals en verkeerd bewys,  deur op enige manier in te meng met uitdrukking wat aan  Artikel 16 van die Grondwet voldoen.

Dit was ook onaanvaarbaar en ongrondwetlik om te poog om enige optrede, of gebrek aan optrede wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens, of enige ander staatsorgaan nadelig mag raak, te verbied. Burgers in grondwetlike demokrasieë  is vry om op te tree binne die reg al mag dit staatsorgane nadelig aantas, deur bv. onbevoegdheid en korrupsie te ontbloot; of deur die bestuur of aktiwiteite van so 'n staatsorgaan te kritiseer; of deur hul reg om te staak of te betoog.

Die Stigting het ook uitgewys dat, heeltemal apart van die ongrondwetlikheid van Klousule 30A, die voorgestelde boetes van tussen R5-miljoen en R10-miljoen, of maksimum tronkstraf van tussen vyf en tien jaar, buite alle verhouding met die veronderstelde oortredings is.

Die Stigting het dit besonder kommerwekkend gevind dat sulke fundamenteel ondemokratiese en ongrondwetlike tendense hulself manifesteer in wetgewing oor wat veronderstel is om 'n alledaagse onderwerp soos die Weerdiens te wees.



UITGEREIK DEUR DIE F W DE KLERK  STIGTING
KAAPSTAD,  11 JANUARIE 2012

Comments

Published in: FW de Klerk Stigting