Reaksie op Dr Piet Croukamp se uitlatings
FW DE KLERK STIGTING NEEM KENNIS VAN DR PIET CROUKAMP SE UITLATINGS
Adv Jacques du Preez
Die FW De Klerk Stigting veroordeel ten sterkste onlangse uitlatings gemaak deur dr Piet Croukamp van die Universiteit van Johannesburg in ‘n artikel in Rapport op 13 Mei 2012 (“Safari na Luthuli”).
Die ANC het onlangs belanghebbende lede van die Afrikaanse taalgemeenskap genooi na ‘n hoëvlak gespreksgeleentheid . Die uitnodiging was woordspesifiek, naamlik dat minderhede in Suid-Afrika meer moet wees as net ’n kritiese stem. Hulle moet ’n proaktiewe stem wees in die bevordering van gemeenskaplike belange en ’n nasionale konsensus. Die doelwit van die gesprekvoering was om vervreemding binne die segment van die burgerlike samelewing sowel as binne die politieke en ekonomiese bedeling teen te werk. Die verwagting was dat dié byeenkoms in nasionale belang tot ’n betekenisvolle dialoog sou lei wat konstruktiewe kommunikasie en samewerking tussen die ANC en Afrikaanssprekende belangegroepe sou fasiliteer.
Dr Croucamp het die gesprek gefasiliteer en het in dié vermelde artikel homself as volg uitgedruk: “My politieke instink het ’n weersin in Afrikanerpolitiek en ek het dit van die begin duidelik gemaak dat die term Afrikaner ideologies gelaai is. Ek dink mense wat hulself as Afrikaners beskryf, beskou hulle nie as deel van Suid-Afrika nie en hul doelstellings korrespondeer nie met die Grondwet van die land nie. Wat my betref, is Afrikaners byna per definisie , of op enkele uitsonderings na, onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste. Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ’n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.”
Daarteenoor, volgens Croukamp, sluit die term “Afrikaanssprekendes” diverse identiteite in en veronderstel dit geen ideologiese konsensus of selfs noodwendige politieke eiesoortigheid nie.
Croukamp meen ook dat mense wat hulself as “Afrikaanssprekende” Suid-Afrikaners identifiseer, oorwegend lojaal is aan Suid-Afrika, vertroue het in die Grondwet en werklik nie omgee watter kleur of ras die regering of selfs die staat is nie, solank dit goed en regverdig regeer. Hul (“Afrikaanssprekendes”) stryd is dus om beter regering, nie om ’n wit of Afrikaanse regering nie. Croukamp is ook van die opinie dat sommige van die persone wat die verrigtinge bygewoon het, byna gesmeek het dat hul vaardighede gebruik word om die land beter te bestuur. Aldus Croukamp beskou Afrikaners hulself dus nie as deel van Suid-Afrika nie, is hul doelstellings, wat dit ook al mag wees, ongrondwetlik en is hulle, sonder uitsondering, dislojaal teenoor Suid-Afrika.
Hierdie ondeurdagte asook onverantwoordelike uitlatings is nie net ongrondwetlik nie, maar ook rassisties. Die kern van rassisme, en rassistiese uitlatings soos dié van Croukamp, is die benadelende behandeling, of toeskrywing van negatiewe eienskappe, vir mense as gevolg van hul ras of kultuurgroep.
Die stelling dat Afrikaners per definisie onverdraagsaam en ook (waarskynlik) rassiste is, is nie net uiters onsensitief en totaal ongegrond nie, maar grens aan haatspraak. Uitlatings dat sommige Suid-Afrikaners -ongeag hul ras, taal of kultuur, minder werd is as ander en dat Suid-Afrika beter af is sonder Afrikaners erodeer kosbare nasiebou pogings van alle Suid-Afrikaners en veroorsaak bitter rassepolarisasie binne ons gemeenskappe. Verder, kan enige mens ideologies wees. Ons grondwet maak ruim voorsiening daarvoor. Die hele idee van ons grondwetlike demokrasie, waaraan Afrikaners saam met soveel ander Suid-Afrikaners help bou het, is nie net dat ons almal gelyk is nie, maar ook dat ons almal saak maak.
In die verband is ons grondwet, waaraan Afrikaners help bou het, baie duidelik: Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.
Afrikaners het ‘n kardinale rol gespeel in die uitbou van Suid-Afrika en daar is vele Afrikaners wat hulself openlik teen rassistiese ideologieë van die verlede verset het soos byvoorbeeld Bram Fischer, Beyers Naude, Ingrid Jonker, Andre Brink, Breyten Breytenbach, Frederik van Zyl Slabbert, om bloot ‘n paar voorbeelde te noem. Die feit dat sommige van dié persone wat die onlangse gesprekvoering bygewoon het aangebied het dat hul vaardighede gebruik word om die land beter te bestuur, is ‘n verdere teken van die onmisbare wil van Afrikaners om blywend deel te hé en by te dra tot die demokratiese suksesverhaal van die nuwe Suid-Afrika.
Wat “Afrikanerskap” behels en ook nie behels nie, is ‘n kwessie wat oop is vir interpretasie. Persone behoort beoordeel te word as individue en op sterkte van hul persoonlike karaktereienskappe en nie die kleur van hul vel of kulturele groepering nie, en dit geld vir alle Suid-Afrikaners ongeag of hulle Afrikaners, Zulus, Xhosas of Tswanas mag wees en of hulle Noord-Sotho, Engels of Afrikaans praat.
Ons deernis as ‘n nasie, wat al ons gemeenskappe insluit, is dat ons saam uitgestyg het bo ons verdeelde verlede en in ons Grondwet tot ooreenkoms gekom het op ‘n nie-rassige demokrasie waar menswaardigheid en gelykheid voor die reg seëvier, en alle Suid-Afrikaners fundamentele regte geniet.
People should be judged as individuals according to the content of their character - and not the colour of their skins - Martin Luther King Jr.
FW de Klerk Stigting
Kaapstad, 18 Mei 2012
Comments
Published in: FW de Klerk Stigting



