English

Hoe werk die grondwet?

Sentrum vir Grondwetlike Regte > Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika

Wat is die funksie van Suid-Afrika se Grondwet?

Die Grondwet is om die volgende redes van kardinale belang vir elke mens wat in Suid-Afrika woon:

  • Dit waarborg ons mees basiese regte, insluitend die reg op lewe, vryheid, waardigheid, eiendom en deelname aan demokratiese instellings.
  • Dit vertolk die waardes waarvoor die nuwe Suid-Afrika staan en die doelwitte waarna gestreef word.
  • Dit bevorder die gelykheid van alle Suid-Afrikaners en verbied diskriminasie van enige aard.  Dit bevestig ons reg om ons godsdiens te beoefen, en om ons kinders in die taal en volgens die tradisies van ons keuse, op te voed.
  • Die Grondwet is veral belangrik vir `n land soos Suid-Afrika, met `n komplekse bevolking en `n geskiedenis van verdeeldheid en konflik.  Dit verskaf `n afdruk vir vrede, geregtigheid en harmonie was onderhandel en aanvaar is deur alle partye wat die meerderheid van al ons gemeenskappe verteenwoordig het.
  • Die Grondwet is ook belangrik vir ons kulturele, politiese en godsdienstige minderhede.  Die meerderheid kan gewoonlik sy belange beskerm deur sy beheer van die parlement en staatsmag.  Minderhede aan die ander kant moet dikwels op die Grondwet steun vir die beskerming van hul belangrikste belange.

Hoe werk die Grondwet? 

Een van die merkwaardigste kenmerke van ons Grondwet is dat die skrywers van die teks wou gehad het dat dit in eenvoudige taal geskryf moes word, met so min as moontlik gekompliseerde regsterme sodat dit deur die meerderheid van Suid-Afrikaners gelees en verstaan kon word.  Hierdie doelwit is bereik en die Grondwet is maklik om te lees en is geensins intimiderend vir iemand wat nie regskennis het nie.  Daar is egter `n paar basiese regsgebruike en- terme wat gebruik word in die Grondwet wat maklik aangeleer kan word.  Dit sal hier onder verduidelik word.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet) bestaan uit 14 hoofstukke en elke hoofstuk is opgedeel in artikels.  Daar is ook sewe skedules aan die einde van die Grondwet.  Anders as die verskeie afdelings van die hoofstukke, wat ons na verwys as artikels, word die afdelings in die skedules items genoem.

Voorsieninge gemaak met die stigting

[Hoofstuk 1] van die Grondwet is getiteld ‘Grondliggende Bepalings’.  Hierdie hoofstuk vervat die grondwetlike waardes waarop Suid-Afrika gebou is.  [Artikel 1] van [hoofstuk 1] verklaar dat hierdie waardes die feit insluit dat Suid-Afrika `n demokrasie is wat gebaseer is op die waardes van

  1. ‘menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede;
  2. nie-rassisties en nie-seksisties;
  3. oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die wet;
  4. algemene stemreg vir volwassenes, `n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en `n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, `n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.’

[Artikel 2] van [hoofstuk 1], is moontlik die belangrikste artikel omdat dit verklaar dat die Grondwet die hoogste reg van die Republiek is en dat enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, ongeldig is.  Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie ongeldigheid terugwerkend is - wanneer `n wet as ongeldig verklaar word deur die Grondwetlike Hof, is daardie wet reeds ongeldig sedert die datum waarop die Grondwet in werking getree het, naamlik 4 Februarie 2007.

Wysiginge aan die grondwet

Nog `n belangrike artikel is [artikel 74] van [hoofstuk 4] van die Grondwet wat handel oor hoe die verskeie hoofstukke in die Grondwet gewysig mag word.  Om [artikel 74] of enige iets in [hoofstuk 1] van die Grondwet, is `n 75% meerderheid nodig in die nasionale vergadering te same met `n meerderheid van ten minste ses van die nege provinsies in die nasionale raad van provinsies.  [Hoofstuk 2] van die Grondwet (Handves van Regte) het `n twee-derde meerderheid nodig om gewysig te word en ses van die nege provinsies in die nasionale raad van provinsies.  Al die bepalings in die Grondwet het ook `n twee-derde meerderheid nodig, maar die goedkeuring van die  nasionale raad van provinsies is slegs nodig in beperkte omstandighede soos uiteengesit in artikel [74(3)(a)].

Handves van Regte

[Hoofstuk 2] van die Grondwet [(artikels 7 tot 39)] vervat wat bekend staan as die [Handves van Regte].  Elke been van die regering - die uitvoerende gesag, wetgewer en die regbank - het sy eie hoofstuk in die Grondwet.  Die artikels in hierdie hoofstukke beskryf die magte en pligte van elke regeringstak.  Die Handves van Regte vervat al die regte en pligte van elkeen wat in die Republiek van Suid-Afrika woon.  Die Grondwet se regte en pligte (in terme van [artikel 8(2)] van die Grondwet) het betrekking op die regering, staatsorgane, die regbank, gewone burgers (natuurlike persone) en korporatiewe entiteite (regspersone).  Anders as die pligte wat aan die regering toegeken word, is natuurlike en regspersone slegs gebind tot die regte en pligte in sover dit van toepassing is, met die inagneming van die aard van die spesifieke reg of plig.  Dit sou byvoorbeeld moeilik wees om jou in te dink hoe `n regspersoon kan aanspraak maak op die reg op lewe.

Beperking van regte wat ingesluit is by die Handves van Regte

Nog `n belangrike faset van die Handves van Regte is [artikel 36].  Artikel 36 is bekend as die beperkingsklousule.  Hierdie klousule bevat die belangrike grondwetlike begrip dat regte nie absoluut is nie en dat alle regte beperk kan word.  Die reg op vryheid van uitdrukking ([artikel 16]) kan byvoorbeeld, indien gebruik in op `n wyse wat absoluut is, elkeen se reg dat sy of haar menswaardigheid respekteer en beskerm sal word ([artikel 10]), beperk.  Artikel 36 dui aan dat enige beperking van `n reg slegs grondwetlik geldig kan wees indien daardie beperking van `n reg ingestel word deur `n algemeen geldende regsvoorskrif en die beperking moet redelik en regverdigbaar wees in `n demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met die inagneming van alle relevante faktore.

`n Verdere belangrike aspek om op te let oor die beperking van regte is dat daar sekere regte in die Handves van Regte is wat hul eie interne beperkingsklousules in sluit - addisioneel tot die beperkingsklousule in [artikel 36].  Deur weer die voorbeeld oor artikel 16 te gebruik (die reg op vryheid van uitdrukking), kan `n mens sien dat die reg om jouself vrylik uit te druk intern beperk is deur artikel 16(2) wat sê dat vryheid van uitdrukking nie ‘(a) propaganda vir oorlog; (b) die aanstigting van dreigende geweld; (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanstigting om leed te veroorsaak, uitmaak nie.’ 

Regte wat nie dadelik opgeëis kan word nie

Verdere regte wat onderhewig is aan interne beperkings is daardie regte waarna verwys word as sosio-ekonomiese regte.  Sosio-ekonomiese regte sluit in, onder andere, die reg op geskikte behuising, die reg op voldoende voedsel en water en die reg op basiese onderwys.  Op `n mindere of meerdere mate is die meeste van hierdie regte intern beperk vanweë die feit dat die regering hierdie regte voortdurend moet realiseer en ook net volgens die beskikbaarheid van hulpbronne.  Dit beteken byvoorbeeld dat jy nie volgens jou regte kan aanspraak maak op `n huis nie, tensy die regering besluit het dat dit die hulpbronne het om daardie huis te verskaf.

Staatsinstellings ter ondersteuning van 'n grondwetlike demokrasie

[Hoofstuk 9] van die Grondwet is ook `n belangrike hoofstuk.  Hierdie hoofstuk beskryf die magte en pligte van verskeie onafhanklike liggame genaamd ‘Staatsinstellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie’.  Hierdie [hoofstuk 9-instellings] is in plek gestel vir die voordeel van die publiek en word breë magte toegeken om die regering se optrede op enige vlak te ondersoek en om remediërende stappe te neem waar nodig.  Van die belangrikste organisasies is die Openbare Beskermer, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Onafhanklike Verkiesingskommissie - wat ons verkiesings beheer om sodoende te verseker dat dit vry en regverdig geskied - en die Ouditeur-generaal - wie oudits uitvoer van die finansiële bestuur van die regering, en daaroor rapporteer.

Published in: Sentrum vir Grondwetlike Regte > Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika