Verslag oor openbare verhore oor onteieningswetontwerp in parlement op 17 en 18 Junie 2008
Centre for Constitutional Rights > Constitutional developments > Constitutional developments: Legislation
Voorleggings gemaak deur Me Gisela Weinhamm en Mnr Andrew Piper.
17, 18 Junie 2008
Die Portefeuljekomitee op Openbare Werke het altesaam 11 organisasies en twee individue genooi om mondelinge voorleggings te kom maak in verband met die Onteieningswetsontwerp. Twee van die organisasies op die program het nie opgedaag by die verhore nie, naamlik NAFU en Standard Bank.
Die Voorsitster van die Portefeuljekomitee op Openbare Werke, me. Thandi Tobias het by die aanvang van die verhore verduidelik dat die Komitee spesiale stappe geneem het om ook in die provinsies te konsulteer oor die wetsontwerp, hoewel dit nie normale prosedure is nie. Sy het gesê dat die verhore drie weke voor die tyd reeds geadverteer was en dat baie van die sale waar die verhore gehou was, stampvol was. Sy het gesê dat AgriSA in al die provinsies verteenwoordig was by die verhore. Sy het gesê dat dit belangrik is om ‘n balans te probeer daarstel tussen die openbare belang en privaat belange en dat die regering die verantwoordelikheid het om te reguleer in die openbare belang.
Die eerste organisasie wat ‘n voorlegging gedoen het, was AgriSA. AgriSA se President het die voorlegging gedoen. Mnr. Hans van der Merwe en me. Annelize Crosby het sekere van die vrae beantwoord. AgriSA het in sy voorlegging gewys op die belangrikheid van sekerheid van eiendomsreg en die negatiewe gevolge wat onsekerheid tot gevolg kan hê. In ‘n klimaat van onsekerheid, soos die wat deur grootskaalse onteiening geskep kan word, is daar geen investering nie en sonder investering is daar ook geen groei nie. AgriSA het die organisasie se verbintenis tot grondhervorming herbevestig, maar gepleit dat ‘n positiewe benadering gevolg word om grondhervorming te bespoedig, eerder as die egatiewe benadering van onteiening. Die positiewe stappe wat geneem kan word, sluit in die effektiewe implementering van die Landbou Sektorplan en die sluit van vennootskappe tussen die staat en die privaatsektor rondom grondhervorming. AgriSA erken dat onteiening ‘n plek het en dat die wet wel in lyn gebring moet word met die Grondwet. Die organisasie se standpunt was egter nog altyd dat onteiening slegs as laaste uitweg gebruik behoort te word. AgriSA het sy kommer uitgespreek oor die wye magte wat aan die onteieningsgesag verleen word in die wetsontwerp, oor die feit dat vergoeding minder as markwaarde kan wees en daar nie vergoeding betaalbaar sal wees vir werklike finasiële verlies en as tranegeld nie, die feit dat die term “openbare belang” baie wyd is, die definisie van ‘n “regspersoon” wat ook baie wyd is en die beperking wat geplaas word op die reg van die individu om ‘n dispuut deur ‘n Hof te laat besleg. Daar is heelwat vrae aan AgriSA gestel, onder andere oor die standpunt dat die onsekerheid wat deur die wetsontwerp geskep kan word, ‘n negatiewe impak kan hê op voedselsekuriteit en voedselpryse. Daar was ook heelwat debat oor die standpunt van AgriSA dat markwaarde die uitgangspunt behoort te wees wanneer vergoeding bereken word. Sommige van die Komiteelede het gevoel dat die “geskiedenis van verkryging van die eiendom”, eerder die vertrekpunt behoort te wees.
ForestrySA het daarna aan die beurt gekom. Hulle het gesê dat hoewel hulle die noodsaak van ‘n wetlike raamwerk vir onteiening, wat in lyn is met die Grondwet erken, dat wetsontwerp sekere ernstige tekortkominge het. Die wetsontwerp maak byvoorbeeld nie voorsiening is onteiening wat prosedureel billik is nie. Verder ontsê dit geaffekteerde partye behoorlike toegang tot die howe en impakteer dit op ‘n negatiewe wyse om mense se reg tot privaatheid en menslike waardigheid. Forestry SA het ‘n probleem met die magte van inspeksie wat aan die onteieningsgesag gegee word wanneer hulle onteiening oorweeg. Hulle meen dat die wyse waarop die inspeksiebevoegdhede uitgeoefen kan word, mense se reg op privaatheid en waardigheid nadelig kan raak. Hulle het dit duidelik gestel dat die periode van 21 dae wat ‘n eienaar toegelaat word om beswaar te maak teen ‘n voorgenome onteiening heeltemal te kort is. Forestry SA het ook daarop gewys dat die finale vasstelling van die vergoeding deur die onteieningsgesag en die beperking van die howe se gesag om die vergoeding te kan afkeur, in stryd is met die Grondwet.
Amahlati, ‘n organisasie wat swart bosbouers verteenwoordig, het in hul voorlegging gepleit daarvoor dat die bome apart van die grond hanteer moet word by ‘n onteiening.
TLU-SA, wat by die verhore verteenwoordig is deur ‘n advokaat van die Pretoria-balie, het gesê dat hulle geen beginselbeswaar teen onteiening het nie. Hulle het gesê dat die onteieningsgesag nie die vergoeding kan bepaal nie, omdat dit nie ‘n onafhanklike en onpartydige instansie is nie. Die bevoegdheid om, in die geval van ‘n dispuut, die vergoeding vas te stel, is ingevolge artikel 169 van die Grondwet die prerogatief van die Hof.
ANCRA, (Association for Community and Rural Advancement), verteenwoordig deur me. Macia Manong, het ‘n gesê dat die Komitee hulle nie behoort te laat intimideer deur blanke grondeienaars se dreigemente oor die negatiewe impak wat die wet op investering en voedselsekuriteit kan hê nie, aangesien die groep slegs hul gevestigde belange probeer beskerm. Blanke boere voed in elk geval nie die bevolking nie, want mense ly honger en voedsel moet ingevoer word. Grondeienaars het grondpryse opgejaag deurdat hulle nie gewillige verkopers was nie. Vir hierdie redes behoort markwaarde nie die maatstaf van vergoeding by onteiening te wees nie. Sy het gesê dat hierdie wetsontwerp uitvoering gee aan die besluite wat by die Grondberaad geneem is. ANCRA vra dat die wetsontwerp onmiddellik geimplementeer word wanneer dit gepromulgeer is.
Anglo American, het die middag ‘n voorlegging gedoen. Hulle het ook die wye magte van die onteieningsgesag en die beperking op die gesag van die howe gekritiseer. Hulle het onomwonde gesê dat kloysule 24 van die wetsontwerp, wat handel oor die rol van die howe, ongrondwetlik is. Hulle het ook gesê dat werklike finansiële verlies en die ongerief van onteiening relevante faktore is wat in ag geneem behoort te word by die vasstelling van vergoeding. Volgens Anglo American maak die wetsontwerp die moontlik vir enige staatsorgaan om eiendom te onteien, selfs waar dit buite daardie staatsorgaan se jurisdiksie val. Hulle het voorgestel dat staatsorgane slegs behoort te kan onteien indien die mag om te onteien in ‘n wet wat daardie staatsorgaan administreer spesifiek aan sodanige staatsorgaan toegeken word. Anglo American het gevoel dat daar weggedoen behoort te word met die gedagte van streeks-onteieningsrade, omdat die nodige kapasiteit nie op streeksvlak bestaan nie. Tydens vraetyd het een van die Komiteelede gesê dat ongeveer 70% van onteienings op ‘n plaaslike vlak sal gebeur. Anglo is skerp gekritiseer vir hul standpunte. Die Voorsitster van die Portefeuljekomitee het die standpunt ingeneem dat dit nie nodig is op mense met bepaalde kundigheid soos waardeerders op die onteieningsrade te hê nie.
Op 18 Junie het ABSA, COSATU, LAMOSA en twee individue aan die beurt gekom. ABSA het in hul voorlegging voorgestel dat onteiening slegs behoort plaas te vind wanneer dit beide in die openbare belang en vir ‘n openbare doel is. ABSA sê dat die magte wat aan die Minister gegee word te wyd is en spreek ook hul kommer oor die wye definisie van ‘n “regspersoon” wat die Minister kan versoek om eiendom namens die regspersoon in die openbare belang te onteien. ABSA handel ook in hul voorlegging met die voorgestelde prosedures van onteiening. Ten aansien van vergoeding sê ABSA dat markwaarde die mees betroubare en objektiewe maatstaf vir vergoeding is en meer waarde behoort te dra as die ander faktore wat in artikel 25(3) van die Grondwet genoem word. ABSA sê verder, dat persone nie van hul eiendom ontneem behoort te word teen vergoeding wat substansieel van markwaarde verskil nie. ABSA is skerp gekritiseer vir hierdie standpunt dat markwaarde ‘n baie belangrike rol by die bepaling an vergoeding behoort te speel.
COSATU het in hul voorlegging die wetsontwerp verwelkom en gesê dat dit die enigste betekenisvolle stap is wat die staat kan neem om grondhervorming te bespoedig. Die wetsontwerp verteenwoordig volgens COSATU ‘n betekenisvolle skuif weg van die benadering wat gebaseer is op die gewillige-koper-verkoper beginsel. Hulle het gepleit dat die wetsontwerp nie slegs vir grondhervorming gebruik moet word nie, maar ook vir die nasionalisering van strategiese industrieë soos SASOL en Mittal staal en sektore soos die banke en monopolistiese industrieë. Baie van die Komiteelede het COSATU se voorlegging verwelkom.
LAMOSA (Land Access Movement of South Africa) het die wetsontwerp verwelkom.
Comments
Published in: Centre for Constitutional Rights > Constitutional developments > Constitutional developments: Legislation

