English

INTERNASIONALE MOEDERTAALDAG

Irene Saunders

FW de Klerk Stigting > Bydraes

Volgens UNESCO is tale “die kragtigste instrumente om ons tasbare en ontasbare erfenis te bewaar en ontwikkel”.  Ongelukkig het 4% van die wêreld se gesproke tale sedert 1950  uitgesterf en tussen “90% en 95% van vandag se 7000 gesproke tale kan teen 2100 uitgesterf wees of nie meer deur kinders aangeleer word nie.”

Van die wêreld se uitgestorwe tale, is sewe eens in Suid-Afrika gepraat, naamlik!Gan!ne, Cape Khoekhoe, |’Auni, |Xam, ||Ku||’e, ||Kx’au en ||Xeqwi.  Vandag het ons drie uiters bedreigde tale -  Korana (ses sprekers in 2008), N|uu (agt sprekers in 2008) en Xiri (87 sprekers in 2000).  Meeste Suid-Afrikaners het nog nooit van hierdie tale gehoor nie en die regering het nog min of niks gedoen om dit te bewaar of bevorder nie.  Die grootste bedreiging vir ons inheemse tale is egter nie die regering nie, maar die traak-my-nieagtige houding van die sprekers van hierdie tale.
 
Ten spyte van die klem wat die Grondwet lê op taalregte, word die gebruik van moedertale ernstig bedreig.  Engels word toenemend die de facto taal van die regering, ten spyte van die feit dat dit slegs die sesde grootste taal in die land is (naas isiZulu, isiXhosa, Afrikaans, Sepedi en Setswana).  Terwyl daar baie groepe is wat die taal- en onderwysregte van Afrikaanse sprekers bepleit, kan dieselfde nie gesê word van ons ander inheemse tale nie - en dit word toenemend gemarginaliseer in alle sfere van die lewe.

Maar hoekom is moedertaal, en veral moedertaalonderrig, so belangrik?

Dr Neville Alexander verduidelik dat “alleenlik Engelse, of selfs hoofsaaklik Engelse beleide noodwendig mense, en dus die land as geheel, verdoem tot permanente middelmatigheid, aangesien mense nie in staat is om spontaan, kreatief en selfversekerd te wees indien hulle nie hul eerste taal kan gebruik nie.”  Hy wys ook daarop dat “tweetalige onderrig die beste manier is vir kinders, wie se moedertaal nie Engels is nie, om vaardighede en inligting te bekom en om Engels aan te leer” en dat die “aanleer of verwering van vaardighede deur middel van Afrikaans of enige ander inheemse Suid-Afrikaanse taal die koninklike pad na die werklike gelykstelling van al die tale in ons land” is.

Dr Kathleen Heugh - `n voorste taalkenner - het bevind dat ononderbroke onderrig in die leerder se moedertaal vir so lank as moontlik noodsaaklik is ten einde optimale kognitiewe en akademiese ontwikkeling te bereik.  Die ideaal is ses tot agt jaar in goed toegeruste skole, en in swak toegeruste skole tot Graad 9.  Prof Michael le Cordeur stem hiermee saam.  Volgens hom beteken moedertaalonderrig dat leerders in hul moedertaal onderrig word in die fundamentele konsepte van `n vak.  Sodra die leerders hierdie konsepte verstaan, kan hulle dit toepas wanneer hulle `n tweede taal aanleer.  Kinders verstaan hierdie konsepte makliker in `n taal waarmee hulle bekend is, maar in `n tweede taal word dit dooie woorde wat eenvoudig memoriseer word, maar nie internaliseer word nie.”  

Daar kan gevolglik geen twyfel wees oor die belangrikheid van moedertale nie.  En tog steur baie Suid-Afrikaners hulle nie aan die boodskap nie.  Hoekom?

Navorsing dui op vele mites rondom die gebruik van moedertaal en moedertaalonderrig.  Artikel 29 van die Grondwet waarborg die reg van Suid-Afrikaners op onderrig in die taal van hul keuse, maar dit verwys nie spesifiek na ‘moedertaalonderrig’ nie.  Omdat kinders nie die vermoë het om self die onderrigtaal te kies nie, berus die keuse vir alle praktiese en regsdoeleindes op die ouers of voogde wat dien op skoolbeheerrade.  Dis hier waar die probleem lê - want die oorgrote meerderheid swart ouers verkies dat hul kinders so gou as moontlik oorskakel na Engels as die taal van onderrig - wat baie negatiewe gevolge inhou vir die vooruitsigte vir hul kinders se onderrig en vir die oorlewing van inheemse tale en kulture.

Volgens Dr Heugh is een van die mites wat baie ouers glo dat “Engels die enigste taal is wat die kapasiteit het om kwaliteit onderwys aan die meerderheid te lewer - Afrika-tale doen nie en kan nie.” Prof Alexander dring daarop aan dat die blinde geloof in die meerderwaardigheid van Engels as onderrigmedium vir kinders met Afrika-tale as moedertale, “een van die brutaalste drogstories van die 20ste eeu” is.   

Maar wat moet gedoen word om hierdie wanbegrippe oor moedertale reg te stel?   Eerstens moet die regering `n aksieplan in plek stel om Suid-Afrikaners - en dalk belangrikste die ouers - in te lig oor die voordele en noodsaaklikhede van moedertaalonderrig.  Volgens artikel 28(2) van die Grondwet is “die kind se beste belang van oorheersende belang in elke aangeleentheid rakende die kind’.  Omdat dit nou algemeen aanvaar word dat moedertaalonderrig in die kind se beste belang is, moet hierdie oorweging voorrang te geniet bó die ouer se reg om die onderrigtaal te kies.    

Natuurlik is hierdie `n langtermynprojek.  Talle oplossings kan en is reeds deur verskeie kenners uitgewys, maar geen een sal die probleem oornag regmaak nie.  Dis juis waarom mense vandag nog moet begin om hul taalregte op te eis.  Dit is veral die Afrika-taal-sprekers wat moet begin mobiliseer om hul tale te bevorder.  Afrikaans kan nie die enigste Suid-Afrikaanse taal wees wat bevorder en beskerm word nie.

Geen taal sal egter oorleef indien sy sprekers dit nie aktief ondersteun nie.  `n Bekende spreekwoord lui: “As jy drie tale kan praat is jy drietalig.  As jy twee tale kan praat is jy tweetalig.  As jy slegs een taal kan praat is jy `n Amerikaner.”  Ons moenie toelaat dat dít met ons as Suid-Afrikaners - en met ons ryk erfenis van inheemse tale en kulture - gebeur nie.

 

Comments

Published in: FW de Klerk Stigting > Bydraes